Hierdie mensingstuk het oorspronklik in Stemme op Netwerk24 verskyn:
Rasretoriek is al dekades lank, eers deur die NP en toe die ANC, as gerieflike troefkaart gebruik om eng, etnies gefokusde politieke en ekonomiese belange te bevorder en staatsmag te kaap, skryf Christo van der Rheede.
Om Suid-Afrika van sy huidige afwaartse spiraal te red, moet een kritieke stap geneem word. Die kwessie van ras moet finaal uit die politieke formule gehaal word.
Dit is nie net 'n dringende beroep op ons eie plaaslike leierskap nie, maar ook die ondubbelsinnige boodskap wat alle Suid-Afrikaners - wit, swart en bruin - by die Trump-administrasie in Washington moet tuisbring
Dekades lank, eers onder die bewind van die Nasionale Party en die afgelope 30 jaar onder die vaandel van die ANC, is ras as'n gerieflike troefkaart gebruik.
Dit is deuropend ingespan om eng, etnies gefokusde politieke en ekonomiese belange te bevorder en staatsmag te kaap.
Hierdie strategie het nie net gemeenskappe diep verdeel nie, maar dit het ook as'n rookskerm vir korrupte elites gedien. Deur sentimente oor ras aan te blaas, kon hierdie rolspelers onverdiende simpatie by hul steunbasis werf en enige vorm van ware aanspreeklikheid ontduik. Die boodskap aan sowel Washington as Luthuli-huis is eenvoudig: Hou op om hierdie verdelende retoriek te gebruik.
Dit polariseer ons samelewing, dit kweek wantroue, en dit verplaas die fokus heeltemal weg van die werklike, eksistensiële krisisse wat alle landsburgers raak - misdaad, endemiese korrupsie, dienslewering wat platval en ekonomiese stagnasie.
Dit is egter noodsaaklik om onderskeid te tref tussen politieke magspel en ware
kulturele vryheid. Om binne gemeenskapsverband die unieke kulturele erfenis en belange wat ons diverse samelewing kenmerk, uit te leef, is iets wat ten volle verwelkom en aangemoedig moet word. Dit lê 'n gesonde basis vir die ontsluiting van opvoedkundige, sosiale, ekonomiese en geestelike groei op voetsoolvlak. So 'n vryheid bou gemeenskappe, bevorder samehorigheid en kweek wedersydse verdraagsaamheid. Dit is 'n viering van ons diversiteit.
Maar daar is'n onversoenbare gaping tussen gesonde kulturele trots en die misbruik van ras vir politieke of populistiese gewin. Die leedvermaak en kru rasslsme wat dikwels daarmee gepaard gaan - iets wat helaas in alle gemeenskappe voorkom - ondermyn nasiebou.
Die internasionale landskap speel toenemend 'n politieke rol in ons plaaslike diskoers, ongelukkig dikwels ten koste van plaaslike eenheid. Pres. Donald Trump se tweede termyn word gekenmerk deur'n ongekenbde vlak van onverdraagsaamheid, buffelagtigheid, banaliteit, selfverheerliking en selfverryking wat eintlik ongewenaard is in die onlangse Amerikaanse geskiedenis.
Ongelukkig het hierdie politieke styl plaaslik 'n lewe van sy eie gekry. Dit vuur'n kultuur van roekelose bravade aan, gekenmerk deur naakte rassisme en onverdraagsaamheid - dikwels onder mense van wie 'n mens dit die minste sou verwag.
Wanneer 'n supermoondheid soos die VSA sy beleid teenoor Suid-Afrika op 'n simplistiese, rasgebaseerde narratief skoei, skep dit wesenlike gevare. Die Amerikaanse retoriek wat fokus op die sogenaamde vervolging van 'n geisoleerde "Afrikanerminderheid", gee die regerende party 'n onverdiende en toksiese politieke reddingsboei. In plaas daarvan dat kiesers die regering verantwoordelik hou vir korrupsie, paaie vol slaggate, voortslepende kragonderbrekings en munisipaliteite wat bankrot is, kan oortreders nou terugval op verouderde anti-imperialistiese retoriek. Hulle kan hulself as die heroïese beskermers van nasionale soewereiniteit teen buitelandse inmenging voorhou.
Die laaste ding wat Suid-Afrika nou nodig het, is dat onbeholpe buitelandse diplomasie van korrupte politici nasionale martelaars maak.
Die werklikheid op grondvlak is dat alle Suid-Afrikaners tans ekonomies gestriem word. Ons betaal in wese 'n strafbelasting om bloot te oorleef, omdat die staat in sy basiese pligte faal. Burgers moet self diep in hul sakke delf vir private sekuriteit om hul gesinne te beskerm, vir private kragopwekking om die ligte aan te hou, vir private waterverskaffing, asook vir onafhanklike mediese en vervoerdienste - dit benewens hul persoonlike inkomstebelasting.
Hierdie dubbele finansiële las ontneem hardwerkende mense enige betekenisvolle geleentheid om te spaar en om welvaart vir die volgende geslag te skep.
Om hierdie massiewe uitdagings met stomp instrumente, soos rigide rassekwotas in" die werkplek, te probeer bylê, is kortsigtig. Sulke wetgewing ontneem landsburgers van die geleentheid om organies van mekaar te leer en die beste vaardighede aan mekaar oor te dra.
Terwyl die ekonomiese speelveld beslis gelyk gemaak moet word vir almal wat deur die geskiedenis benadeel is, is die enigste volhoubare antwoord breë, robuuste ekonomiese groei en mentorskap in die werkplek. 'n Genuanseerde en gebalanseerde benadering tot 'n inklusiewe werkomgewing waarin meriete in samehang met 'n gestruktureerde ontwikkelingsplan geleenthede vir swart, wit en bruin bied, is die antwoord. Dit is hoe art. 9.2 van die Grondwet geinterpreteer behoort te word.
Die tragedie van die eng etno-nasionalistiese diskoers deur die VSA en ook plaaslik, is dat dit die einste mense vervreem wat werklik die mag het om die land te verander - die swart meerderheid van Suid-Afrika. Swart burgers is inderdaad siek en sat vir die verval, staatskaping en die laakbare optrede van leiers wat hulle oor geslagte heen getrou ondersteun het.
Hierdie diepe teleurstelling is tasbaar. Jy hoor dit op inbelprogramme op die radio, op televisie, en in alledaagse gesprekke. Hulle wil daadwerklike verandering hê en wil dit in samehang met wit mense bewerkstellig. Die konstruktiewe wisselwerking tussen wit en swart op grondvlak getuig hiervan.
Die Zondo-kommissie en die Madlanga-kommissie het die skokkende, korrupte bande tussen politici, senior staatsamptenare en misdadige sindikate opgevlek op 'n skaal wat enige regenkende mens stom laat. Miljarde rande is uit die staatskas geplunder.
Hierdie onthullings is die presiese medisyne wat nodig is om kiesers wat nog
vasgevang is in 'n blinde struggle-lojaliteit te laat wakker skrik. Hierin lê die mag van 'n verandering van denke en houding opgesluit.
Enige buitelandse poging wat grondhervorming simplisties as roekelose konfiskering afmaak, misluk daarin om te verstaan dat hervorming 'n grondwetlike verpligting is om die brutale ruimtelike nalatenskap van apartheid reg te stel. Die meerderheid stem saam dat onteiening sonder vergoeding die land op'n pad van rampspoed sal plaas. En dat korrupsie en swak bestuur binne dié proses beveg moet word, maar die proses self is grondwetlik noodsaaklik.
As die VSA werklik die belange van gewone Suid-Afrikaners wou dien, sou hy wegbly van etno-nasionalistiese kruistogte. Hy sou sy diplomatieke en finansiële spiere gebruik om streng sanksies en visumbeperkings in te stel teen die spesifieke politici, amptenare en sakelui wat deur amptelike kommissies as staatskapers geïdentifiseer is, soos die afgelope week aangekondig is. So'n geteikende benadering teen korrupsie kan breë steun onder alle rasse heen geniet en sou die werklike skuldiges straf.
Ten spyte van die politieke lawaai, bly die bande tussen Suid-Afrika en die VSA fundamenteel sterk, geanker in gedeelde belange:
Meer as 82 000 Amerikaners besoek Suid-Afrika jaarliks en onderhou
tienduisende plaaslike poste in die gasvryheidsbedryf.
Meer as 600 Amerikaanse maatskappye belê aktief in die land en dryf projekte van miljarde dollars in bedrywe soos internet-infrastruktuur, hernubare energie en vervaardiging
Amerikaanse reuse in die tegnologiesektor verdien jaarliks honderde miljoene in lisensiegelde vanuit Suid-Afrika, wat wedersydse ekonomiese afhanklikheid beklemtoon.
Hierdie feite bewys dat 'n gesonde internasionale verhouding op handel, toerisme en wedersydse institusionele respek gebou is - nie op verdelende rasretoriek nie.
Diegene in Suid-Afrika wat tans jugend en dansend rondspring in die hoop dat
Donald Trump as'n politieke messias vir'n spesifieke minderheid sal intree, moet tot hul sinne kom. Administrasies in Washington kom en gaan terwyl ons in Suid-Afrika met die gevolge sit.
Suid-Afrika se redding lê nêrens anders as in die hande van sy eie burgers nie. Dit is die kollektiewe verantwoordelikheid van wit, bruin en swart Suid-Afrikaners om hande. te vat oor ou breuklyne heen.
Slegs deur ons fokus te verenig teen misdaad, korrupsie en ekonomiese verval, kan ons ons eie toekoms. verseker. Die VSA kan 'n hoogs gewaardeerde vennoot in hierdie proses wees, maar slegs as sy leiers hul retoriek in lyn bring met die werklikheid op grondvlak, die oppergesag van ons Grondwet eerbiedig en ophou om die raskaart te speel.
Christo van der Rheede is die uitvoerende hoof van die FW de Klerk-stigting.